Saturday 29 December 2012

Vraag: Rolrib

Hi Annatjie,

Help asb. Ek sit met die bogenoemde en wil nou 'n lekker rolrib maak maar het nie 'n resep nie, kan jy my help asb? Ek het al op baie plekke gesoek maar kry niks, nie eers in boeke nie. ek is nou raadop. 

Sal waardeer as jy vir my enige lekker resep kan stuur vir my rooibok rib rolle. anders gaan ek dit maar weggee.

Dankie vir jou hulp en wag om van jou te hoor.

Len le Roux.


Len
Jy mag nie jou ribbes weggee nie!!
Ek scan die rolrib resep uit Karoo Wildsvleis resepteboek.  Vir Rooibok en Springbok sal dieselfde resep geldig wees.
Geniet dit en laat my weet.
Groete
Annatjie




  



Thursday 27 December 2012

Hoenderpastei

Hoenderpastei en 'n oondgeroosterde beeskruisstuk(rump) was die vleis op ons Krismistafel.  Rumpgekoopby Richmond se kerkbazaar.....lekker geurige, ryp vleis.  Mediumgaar en in dun skywe gesny.
                                                                                                                                  

hoenderpastei...
1 lekker groot, geel- van- vet skrophoenders in 'n swaarboom kastrol
sit 'n mediumgroot  ui, met 4 heel naeltjies ingedruk, daarby
geur met sout en fyn swartpeper
voeg 2 koppies warm water en 1/2 koppie wit wyn by
Bind 'n paar heel peperkorrels, heel pimentkorrels in 'n moeseliensakkie en voeg by
Laat die hoender stadig, daar's 'n wonderding in lank en stadig sag prut. Dis anders as kook.
As die vleis van die bene val, verwyder die bene, hoendervel en kraakbeen.
Hou die vleisaftreksel.
Maak 'n roux met 2 eetlepels regte botter en soveel, 2e,  bietjie koekmeelblom.
Gebruik die warm hoenderaftreksel om 'n kroek bechamelsous te maak.
*roer 1 eetlepel bruin asyn by die sous
Proe en geur met 'n knippie sout en peper en 'n teelepel ekstra asyn?
Roer die grof gevlokte hoender by die verdikte aftreksel en roer deur.
Skep die vleis in 'n pasteibak, bedek die vleis met skilferkorsdeeg, versier met pasteiedeeg patrone of - repe, smeer die pasteikors met bietjie melk waarby 1 eiergeel geklits is.
Onthou 'n pie duck of prik die kors op 'n paar plekke met 'n vurk .  Vog kan dan ontsna vir 'n veerligte, baie lagie kors.
Bak die pastei by 230 grade C vir omtrent 30 minute.

Thursday 13 December 2012

Springboktartare

Die springboktartare word as ‘n voorgereg bedien en kan vir ‘n paar uur in die yskas in vorms gehou word.  Plaas die eiergeel op net voor opdiening.
Tartare
400g springbok maalvleis
2 agurkies, fyngekap
2  piekeluitjies, fyngekap
5 ml  fyngekapte capers
5 ml grasuie, chives, fyngekap
5 ml pietersielie fyngekap
2.5 ml Dijon mosterd
Paar druppels Tabasco sous
5 ml tamatiesous
Brandewyn
Sout en swartpeper na smaak
Garnering:
1 kwarteleier en  goeie olyfolie en ertjiespruite

Meng  alle bestanddele in vlekvrye staal mengbak en hou in yskas. 
Skep in ronde vorm en maak ‘n holte in die bo kant
Skei eier en plaas versigtig in die holte
Sprinkel olie oor en garner met ertjiespruite.


Tuesday 11 December 2012

Mosterd gemaak

Sommer om in die yskas te hê vir die oorskiet koue vleis van OuKrismis se kreuntafel.  Koue vleis,  eintlik enige koue kos, vra vir ekstra geur.  Mens moet mos proe……op ‘n snytjie vars plaasbrood.  In di e yskas is van  die vorige dem se cooked salami oor.  Ek is gelukkig, daar is ‘n paar roketblare in die tuintjie by die agterdeur……wat die poue nie ogevreet het nie.  Ek sien vanoggend Henkie het die kruietuin probeer pantser, met doringtakke toegepak.  Kobus kry maar weer oorskiet beesskenkels…..dit het nie net by mosterd proe gebly nie.

plaas  mosterd.
3 groot eiers
200 ml wit suiker
250 ml wit asyn
80 ml Engelse mosterdpoeier.
15 ml koekmeelblom

Klits eiers , suiker en asyn baie goed saam.  Maak die mosterd, koekmeel en sout met ‘n bietjie koue water aan en meng goed.  Roer alles bymekaar en klits goed.  Kook mengsel oor stadige hitte terwyl gedurig geroer word.
·        Ek kroek…..maak my mosterd mooier en lekkerder.  Roer sommer ‘n paar lepelsvol gekoopte  sademosterd by.
Terloops, die cooked salami is hoofsaaklik van wildsvleis gemaak.  Die vet is varkspek….ek het geleer varkvet het onversadigde vetsure .  Goed, of nie sleg nie?,  vir die ouens wat sukkel met hartsiektes en ander hartsake….   

Plattelandse suurlemoene kos R2.00 of R2.50 een!  In die winter kook ek baie suurlemoenstroop.  Niks lekkerder vir die warm Karoo somersdae nie.  Behalwe boorgatwater.



Monday 10 December 2012

Vandag maak ons jêm - fyn appelkoos konfyt



Appelkose by Teresa persent gekry.  Nieuwefontein se bome is kaal...laat ryp gehad! 
OOO lekker, roosterkoek met appelkooskonfyt.  En ek kan ruik dat die konfyt lekker gaan wees.  Dit ruik pure appelkoos.  
Moenie die pitte net weggooi nie.  Partykeer, as jy gelukkig is en dis die regte boomvarieteit , is die pitte lekker soet.  Lekkerder as amandels.  Vanoggend se pitte proe soos die ontnugtering van troukoek versiersel steel.  Oom Mannetjies en Tannie Charlotte se versierde karton(doos) troukoek, was lank in my ma se stoor op Doornkuil gebere.  Die klein, fyn versiersuiker blommetjies daarop was sooo mooi, maar ek hou vandag nog nie van marsepein nie.  Die verkeerde appelkoospitte proe soos marsepein.  Is dit waarvan marsepein gemaak word?     

Die fantastiese AMC eenheid kook 8 kg appelkose! Perfek gereguleerde matige hitte...elektriese eenheid.  Die konfyt kan nie brand nie......lekker bederf.   


Friday 7 December 2012

UItnodiging

Stuur gerus vir my jul vrae en deel julle kennis oor wildsvleis hier. Comment onder of rig vrae aan annatjie.r@vodamail.co.za

Vraag: Gevriesde vleis in die yskas, hoe lank?

Antwoord:

Riaan,
jou karkas in die yskas?  Ek het nou 'n elle lange relaas getik van hoe vleis gevries moet word en vir hoe lank!
Die karkas sal in die yskas ontdooi.  Ek dink so 2/3 dae? Die ontdooide karkas/snitte kan jy met 'n klam asynlap afvee, dan goed afvee met 'n droeë lap.
Ek skat die ontdooide vleis sal dan nog maklik vir 3/4 dae goed hou in die yskas.
Die vleis moet oop wees sodat lug daar rondom kan sirkuleer.  
Wil jy die hele karkas spitbraai?   

Groete en merry xmas
Annatjie  

Vraag: Wat om met 'n heel karkas te doen?

Antwoord:

Dine
Oor die rooibok wat jy present gekry het……kyk na die karkas en snitte soos op die foto.  
Besluit wat jy met elke snit wil doen.  Bv. heel gebruik, ontbeen en marineer, blokkies of repies,maalvleis. 

Voorkwart snitte is taaier – nek, blad, skenkels, rib.  As jy daardie snitte heel wil gebruik, oondbraai bv die snit.  Marinering daarvan is opsioneel.  Of saag in skywe, met been aan, vir potjies of stowevleis.   Gesaagde skenkels maak ‘n heerlike wildskenkel pot. ( Ek het onlang springbokskenkel met vark- en skaappootjies gekook.  Lekkerste kerriesult gemaak. Jana Louw van Diemersdal eatery was ‘n meester hiermee.
Die stowevleis is die outydse fynvleis bv. vir pasteie.  Gebruik gaar fynvleis ook vir ‘n terrien, koue wildsvleisrol of ‘n wildsvleispatee.
Die agterkwartsnitte is die prima snitte.  Sagter en vir droëe hitte gaarmaak soos oondrooster, rooster of braai.
Boude kan of heel gebruik word om te stop en oondbraai,  ontbeen en/of  marineer en rooster op die kole.  Altyd mediumgaar, goedgaargeroosterde wild is net droog.  Dan dink mense wildsvleis is taai!  Die 2e  boud moontlik opsny in 3 boudspiere ..dy, binneboud en diklies.  Maal die diklies vir bv. wildsbobotie of widsfrikadelle.  Die dy in blokkies opsny vir wildsosaties.  Binneboud in dun skywe vir die maak van blindevinke.
Baie idees. Vra soos jy bewerk.  Het vining en in kort sinne geskryf. 
As jy eetwors wil maak, gebruik blokkies uit die voorkwart gesny. 
Geluk met jou boek,  lekker besige tye vir jou so op die oujaar….
Groetnis
Annatjie.  Die Karoo is pragtig!!  Kom werk vlg jaar ‘n karkas by my.  Jy sal dit geniet.

Thursday 6 December 2012

Wille Karoo-Burger


Hand ete vir die somervakansie.  Vir man en muis.
 (genoeg vir 12 burgers)


1  groot fyngekapte ui,  in botter en olyfolie gesmoor tot sag en deurskynend
500g wildsmaalvleis,  gemeng met 300g skaap-of varkmaalvleis.
Vars tiemieblare
 vars gerasperde neut 
sout en grofgemaalde swartpeper
1 geklitste eier
Gegeurde koekmeelblom
Olie om in te braai
Meng die maalvleis, tiemie, neut, sout en peper.   Meng die gebraaide ui by. Roer eier by.  Vorm die maalvleismegsel in in 12 ronde hamburger vleiskoekies.  As die vleismengselmoeilik hanteer, laat dit   dit vir ‘n halfuur in die yskas.  Bedek die vleiskoekies met gegeurde koekmeel en braai in verhitte botter  en oliemengsel tot bruin en gaar. 
Gebruik ‘n gewone of interessante hamburger broodjie of pita brood.  Smeer met koljander pesto, mayonnaise , maaskaas of olyfpesto.   Pak ‘n toring met ees  roketblare of slaaiblare, dan die warm  vleiskoekie en rond die smaak en af met geroosterde  rooi- en geel soetrissie ringe, ‘n wig of 2  camembert-of ander kaas.  Sweet chilli sous of waarvoor jy lus is en wat lekker is.